OPE BRIEF AAN GOD
Geagte God,
Vroeër jare het ons hierdie tyd van die jaar kerskaartjies gekoop en aan vriende en familie gestuur wat dit dan vir die duur van die feestyd of op ʼn kaggelrak of ʼn voorportaaltafeltjie sou uitstal. Kenmerkend het hierdie kerskaartjies een of ander soetsappige gedrukte boodskappie bevat met ʼn wens van: “ʼn Geseënde Kersfees en ʼn Voorspoedige Nuwejaar.” Met die hopelose Poskantoor van vandag met bykans “geen” posdiens nie sou dit ʼn oefening in futiliteit gewees het. Die spul is so besig om te staak en wanadministrasie tot ʼn nuwe hoogtepunt te voer dat pos opgaar en nêrens hulle bestemming bereik nie. Gelukkig het ons toegang tot gevorderde tegnologie en daarom kan ons, ons eie boodskappies skep of enetjie van die internet aflaai en met die druk van ʼn enkele knoppie ʼn groep-SMS aan almal stuur. Tot dusver het ons hopelose Regering nog nie daarin geslaag om die proses op te neuk nie maar die hoop sal dalk nie beskaam nie.
Hoe dit ookal sy, ek wil nie goedsmoeds afbreek doen aan ʼn jarelange tradisie nie maar ek vind dit moeilik om goeie wense op ʼn optimistiese noot aan diegene na aan my te stuur. Ek voel ek is oneerlik en vals as ek die woorde geseën en voorspoedig gebruik want ek dink dit is nie wat ek rêrig ervaar of beleef nie. ʼn Mens kan ook net soveel voorgee maar êrens begin jy geloofwaardigheid inboet. Ek mag dalk oneindig sinies en selfs bitter klink maar kom ons neem die werklikheid na behore in oënskou en dan herevalueer ons my sienswyse.
Kom ons kyk na die wêreld waarin ons tans leef. Polities is dit een groot gemors. Wêreldwyd is almal in mekaar se hare en waar dit voorheen meesal ʼn koue oorlog was, voel die burgers op straat dit nou aan die lyf. Terrorisme en terreur is aan die orde van die dag en geeneen is êrens meer veilig nie. Fanatiese selfmoordbomdraers kan op enige plek opduik en ordelike samelewings is na die maan. Ons eie land se politiek is ʼn groot grap. Die President is of besig om korrupsie ʼn nuwe betekenis te gee of hy giggel oor sy eie onsinnighede. Die Regering beweeg met groot spoed van een mislukking na die volgende. Beurtkrag, watertekorte, korrupsie, misdaad, geweld, stakings, noem maar op, is aan die orde van die dag. Hierdie land is op ʼn afdraande pad en uiteindelik êrens vorentoe, gaan alles inmekaar stort. Wat vir my verwarrend is, is die boodkap van die Bybel – U Woord: “Onderwerp jou aan die gesag wat Ek oor jou gestel het” en Jesus se woorde: “Betaal die Keiser wat die Keiser toekom”. Êrens moet daar seer sekerlik ʼn versadigingspunt wees?
Ekonomies is dit nog meer haglik. Een dag basuin die Hoofopskrifte dit uit dat ʼn wêreldwye tekort aan voedsel ons voorland is en voordat dié boodskap behoorlik kan insink, stort die wêreldwye landbou-industrie as gevolg van die oorproduksie van kommoditeite in duie. Aandelebeurse ry wipplank en net wanneer ʼn mens begin dink dat jou beleggenkie sal begin dividende oplewer, voeter die hele mark in duie en is jy jou geld kwyt. Soos dit nou aangaan, lyk dinge maar uiters beroerd. Bo en behalwe ʼn uiters hoë werkloosheidsyfer is afleggings aan die orde van die dag en niemand word gespaar nie of is seker van sy werk nie. Voeg daarby die effek van regstellende aksie en swartbemagtiging en ʼn baie donker prentjie begin te vorm. Here, U het ons leer bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood…” maar daar is baie mense waaronder Christene wat sonder werk is en dit baie moeilik vind om van dag tot dag vir hulle self en hulle gesinne te sorg?
Om alles te kroon, is die weer totaal deurmekaar. Hier in ons land, die warmste winter in menseheugenis. Skroeiende son, droogte. Wolke steek belowend op, net om maar soos mis voor die son te vedwyn. Mense bid, maar die droogte bly. Wanneer dit wel reën, is dit met hael en wind of tot oorvloedens toe, die resultaat is skade. Boere is op moedverloor se vlakte en skielik is die volhoubaarheid van kosvoorsiening onder die vergrootglas. Nie net dit nie maar die boere en die mense wat vir hulle werk se voortbestaan is op die spel. Here, hoor U nie as boere bid en smeek nie?
Nader aan die huis en aan eie vel. Elkeen aan wie ek hierdie brief stuur, mense wat ek ken en wat in my gedagtes is, het ʼn eie storie om te vertel. Een met die doodsvonnis oor die kop; andere met siekte gekonfronteer en die gepaardgaande spanning wat dit meebring; sommiges het dierbares aan die dood afgestaan en sukkel om dit te verwerk; vir sommige spanning by die werk, vir andere werksverlies en gevolglike swak finansiële omstandighede; drome en ideale het nie waar geword nie, inteendeel was meermale onsuksesvol en die gespanne lewensomstandighede het konflik in eie geledere laat ontstaan en dit voel asof almal net swaarkry in hule lewens ervaar. Persoonlik het ek self ʼn hele paar ongemaklikhede die afgelope jaar ervaar wat dit baie moelik maak om die ewige optimis te bly. Paulus skryf in Filippense: “Verbly julle, ek herhaal verbly julle” maar as ek na my en my intieme groepie se lewens kyk is daar maar min, indien enige, om oor bly te wees. Hoe rym dit dan? Ek beskou myself as ʼn gelowige mens en wil bitter graag diegene wat na aan my is, se geloof opbou en versterk maar Here, ek voel ek het maar min om mee te werk. Na alles, die feite spreek vanself en ek kan ongelukkig nie die realiteite van die alledaagse lewe ontken of ignoreer nie.
Ek kan my deesdae baie sterk identifiseer met die woorde van Psalm 130 wat as volg lui:
Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan.
Waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan.
Uit diep van donker nagte, roep ek O Here hoor
en laat my jammerklagte tog opklim in u oor.
Here, ek staan hand in die hare en hoed in die hand. Hoe bring ek sin in die feestydwense van: Geseënde Kersfees en ʼn Voorspoedige Nuwejaar? Ek het nie die wysheid om dit te doen nie. Eintlik weet ek nie wat om vir my mense te sê nie. Soos Petrus toe hy op die see probeer loop het en begin sink het, geskreeu het, skree ek nou: Here, HELP!
ʼn Klomp dinge wat ek in die Bybel gelees het, maal deur my kop. Dis ʼn klomp losstaande gedeeltes en U moet asseblief help dat dit sin maak vir my en vir die lesers van hierdie brief:
Nou die dag het die geskiedenis van Josef weer my pad gekruis. Josef het wonderlike jeugjare beleef en was sy pa se witbroodjie. Dit het uiteraard met baie voordele gepaardgegaan ten koste van sy broers. G’n wonder dat hulle jaloers was nie en dat hulle afguns uiteindelik daartoe oorgegaan het dat hulle hom as ʼn slaaf verkoop het nie. Hy was gelukkig, eintlik wou hulle hom doodmaak maar gelukkig het U anders bestem. Sy lewe was egter vir lank hel totdat U hom laat doen het waarvoor hy bestem was: om mense van vele volke, insluitende sy familie, se lewens te red.
Die telivisiefilm oor die Israeliete se uittog uit Egipte het weer die klem op hierdie eeuoue geskiedenis laat val. Vir veertig jaar het die Israeliete deur die woestyn getrek nadat U hulle van vierhonderd jaar se slawerny verlos het. Bedags ʼn wolkkolom oor hulle koppe (skaduwee om die skroeiende son weg te keer) en snags ʼn vuurkolom (om die ysige koue van die woestyn te oorkom). Feit van die saak is, die reis was deur die woestyn – ongenadige, dorre terrein. Hulle het daagliks kos gekry, miskien nie kaviaar en roomys nie maar genoeg vir elke dag.
Job se verhaal duik gereeld by my op. As daar nou ʼn mens is wat kan praat oor swaarkry, moenie verder soek nie, sy swaarkry laat ʼn mens twee maal dink oor jy eie swaarkry. Ook hy was eers uiters suksesvol, het toe alles verloor en is weer deur U in ere herstel, met veel meer as wat hy voorheen besit het. Sukses of materiële voorspoed is nie noodwendig ʼn gegewe nie. Habakuk het waarskynlik nie sonder rede geskryf: “Al sou daar nie vee in die krale wees nie en geen druiwetrosse aan die wingerd nie, nogtans sal ek die Here loof!” Sy geloof het nie berus op ʼn goeie uitkoms nie maar op ʼn menslik onverklaarbare rede het hy tot die insig gekom dat U alleen die vaste fondament is waarop ʼn mens kan vertrou, ongeag die omstandighede. Miskien is dit die wese van ons geloofsprobleem, ons wil met sukses (dadelik en meetbaar) beloon word.
Dan volg die Nuwe Testament met die vier inleidende evangelies. Die verhaal van die geboorte van Jesus Christus, ʼn verhaal wat ons so goed ken dat ons dalk die detail van die betekenis begin verloor. Gebore in ʼn stal. Iets wat die wêreld al so geromantiseer het, dat dit al na ʼn Vyfsterhotel begin klink. Sagte maanlig, flonkerende sterretjies, engeltjies wat sing. Oor die jare die toevoeging van klinkende klokkies, sneeubedekte dennebome, rendiere en wie weet wat nog, ʼn bietjie uit pas uit hier in die sonryke Suid Afrika. Koos du Plessis se kersliedwoorde: “skenk ons ʼn heldersomerkersfees” bring so bietjie realiteit terug en as hy verder sing”Gee aan God die eer” herinner dit my dat daar geprofeteer is dat Jesus “Immanuel" (God met ons) is.
Dit bring vir my die kloutjie by die oor. As Josef eietyds met ander mense sou gesels, sou niemand hom kon verkwalik as die gesprek oor sy verbrande familie en die ellendige Egiptenare, goed vir niks nie, sou gaan. Tog het hy nie aan daardie tipiese menslikheid toegegee nie, hy het raakgesien dat hy ʼn instrument in U hand was. Dit is nie ʼn geheim dat die Israeliete gedurigdeur aan die murmureer was nie, overgesetsynde nie kon ophou kla nie ten spyte van die sigbare teenwoordigheid van ʼn lewende God. Ons kan vandag baie maklik die vinger na hulle wys en wonder oor hulle ongeloof maar is ons enigsins beter? Wonderwerke gebeur nog steeds in ons tyd, inteendeel met onsself maar ons verkies om eerder op die negatiewe te konsentreer. Job bly ʼn rolmodel van vasbyt onder geweldige moeilike omstandighede maar ook hy moes eers ontdek dat U manier van dink en doen nie met ons menslike logika ooreenstem nie. Miskien lê Habakuk se insig daarin dat hy U nie probeer verstaan het nie maar onvoorwaardelik vertrou het en dit Here doen niemand uit eie vermoë nie.
In Romeine agt skryf Paulus: “niemand of niks kan ons ooit skei van die liefde van God wat daar in Jesus Christus is nie.” Met ander woorde, nie ons onbekwame President of die ANC wat gaan regeer tot Jesus weer kom nie, nog ongunstige ekonomie, nog misdaad, droogte, werkloosheid, siekte of dood kan skeiding tussen God en sy kinders teweegbring nie. Dit is inderdaad ongelooflike groot seën om ʼn kind van God te wees en met vaste sekerheid te weet dat daardie reg nooit van ons ontneem kan word nie.
As laasgenoemde dan die betekenis van seën is, is dit my wonderlike voorreg om julle almal met die grootste vrymoedigheid ʼn Geseënde Kersfees toe te wens.
Wanneer donker onweerswolke opsteek, so begin rol en saampak en onheilspellend voor die son inskuif, is daar dikwels so ʼn bietjie angstigheid teenwoordig. Enige iets kan uit daardie wolke kom, weerlig, hael, vloede. Tog verwonder ek my altyd aan die dun maar uiters helder en skerp randjie van sonlig wat die wolk omsoom, die sogenoemde silwer randjie van die wolk. Daardie einste strepie helder lig kanselleer die onsekerheid wat die donker wolk in ʼn mens ontketen. Selfs wanneer die donker wolk uiteindelik die son totaal uitsluit, as daardie helder lig in my retina ingegrafeer is, weet ek die donkerte van die wolk is net tydelik. Dieselfde donker wolk van verwagte onheil is meer dikwels die bron van reën waaruit U, die Here ons mildelik seën.
U belowe: “Ek bedink nie onheil vir julle nie maar Ek wil julle seën” en deur die geskiedenis het U dit nie alleen aan bybelfigure betoon nie maar ook aan elkeen van ons. Ons gesin het dit weer die afgelope jaar persoonlik ervaar. Ons het almal moed opgegee en gelate aanvaar dat ouerskap en grootouerskap van eie bloed en vlees ons nie beskore is nie. En tog is ʼn kind van genade, Mila Grace Collett gebore en is dit weereens bewys dat die mens wik maar God beskik. So kan elkeen getuig van eie seën en voorspoed. Voorspoed is nie materieël nie, dis die elke dag sorg van U, die Getroue God wat ons koester in die holte van U hand.
As laasgenoemde dan die betekenis van voorspoed is, is dit my wonderlike voorreg om julle almal met die grootste vrymoedigheid ʼn Voorspoedige Nuwejaar toe te wens.
Ek het die brief begin, gerig aan Geagte God want ek het toegelaat dat die onweerswolke van die lewe my van Lig ontneem het. Ek het aan U gedink as Iemand daar êrens bo wat nie my daaglikse stryd raaksien nie en wat waarskynlik met groter dinge besig is as die nietighede wat my op ʼn knop jaag.
Soos altyd, as daar storms in my woed, het U dit stilgemaak en my gebring na waters waar rus is en ek is opnuut herinner dat ek altyd my briewe kan begin met “Liewe Vader”. Dit is ʼn onherroepelike voorreg wat U aan elkeen van U kinders gegee het. Ek besef ook Here dat daar nie altyd maklike en noodwendig verklaarbare antwoorde op my baie waaroms is nie maar U Gees het my weereens gelei om te onthou dat U altyd Immanuel is.
Ek wil dankie sê vir ʼn geskiedenis van seëninge en voorspoed wat soos ʼn goue draad deur my lewe vleg. Seën my asseblief met insig as die donker wolke saampak dat die Lig in my verstand en my hart sal inbrand. Herinner my dat my voorspoed gesetel is in die feit dat ongeag teëspoed soos diep waters en vuur (Jesaja) U altyd by my is.
Ontvang my lof, my eerbied en my liefde.
Die een wat U by die naam geroep het.