J
BEDEVAARTSLIED
My lewenspad blyk deurlopend met hoë berge besaai
die opdraandes meer en steiler om elke hoek en draai
eerder as elke molshoop in my gemoed te verdwerg
groei dit vinnig tot ʼn bult, word uiteindelik nog ʼn berg
vorentoe gaan, vereis of ʼn pad daar om of een daar oor
bedreig en verdwaal, gaan iemand my hulpgeroep hoor.
Berge beskrywend benaam, elk wat ʼn eie storie vertel
Alleenberg, Bangberg, Skaamberg almal wat onheil spel
die verre Verlangberg na iemand dierbaar nou nie meer
Misverstandsberg so hoog dat dit persoonlike kontak keer
berge wat hemelhoog tussen mens en mens tussen in wig
erger nog, voel of dit alle gebede na God totaal ontwrig.
My oë kyk na die berge, waar sal my hulp vandaan kom
dan kyk ek verby die berge op, in die hemel in, na Hom
onse God is veel groter as enige berge, die son of maan
niks sal ooit kan keer dat Hy in node by ons kom staan
ek weet verseker dat Hy wat alles geskep het en onderhou
vir elke berg van my ʼn veilige voetpad daardeur sal bou.