Ek is een van daardie siele, tot die misnoë van my vrou en kinders, wat "betyds" by die kerk wou wees. Hulle begrip van betydswees en myne het natuurlik hemelsbreed verskil en dit kon nogal konflik veroorsaak. Voortvloeiend uit een van hierdie situasies het ek die onderstaande geskryf. Dis eintlik snaaks en ek glo ek is die eerste en sal ook die laaste wees wat in sulke situasies beland nie. Wat ek wel hieruit geleer het, is 'n mens se geneigdheid tot skynheiligheid. Ons moes in die kerk wees, volgens my reëls maar in die proses het daar soveel "Christelikheid" verlore gegaan dat ek myself afgevra het nou waarmee is ek eintlik besig. Sulke goed laat 'n mens dink.
KERKGEBED
Hier sit ek in die bank-vies vir my vrou,
die kinders het laatgelê,
kerkklere was ongestryk.
Buite moes ek parkeerplek soek-
'n " broeder " het my plek gesteel.
My bloeddruk is hoog,
ek sweet, my asem jaag,
my kop is eerbiedig gebuig:
Hoekom is ek hier in die kerk?
Netnou gaan ek ootmoedig sing:
" eeg, net met my sondelas"
Maar weet ek werklik hoe leeg,
hoe ontsettend my sondelas ?
Ek sit hier in 'n " erediens" -
het ek geweet wie preek, was ek nou tuis.
"Ag tog, net nie weer daardie gesang,
en Mammie, hou tog stil jou kind."
"Here, waaraan sit ek en dink?
Here, ek is hier om genade te vind!
Saam met Paulus wil ek wanhopig roep:
"Wie sal my verlos van my ellendige bestaan?
Leer my Heer om vrou, broeder en mammie lief te hê
en laat my verby die dominee kyk
en die Waarheid en Lewe van U Woord ontdek.
Laat die ou gesang lof in my wakker maak!
Here, wees my ellendeling genadig
en neem my gebroke hart as offer aan.
Here, ek is so ontsettend leeg,
vul my Heer met U heilige Gees!"