top of page

Dis 2016 en 'n klomp dinge gebeur in my en my gesin se lewens wat alles deurmekaar krap en ons met 'n klomp onsekerhede laat.  Ek het weer soos baie keer al voorheen net bevestiging gesoek dat ons lewens darem nog op koers is.  Ek stap een aand en omdat ek lief is om na die sterre te kyk, het my oe onwillekeurig boontoe geneig en daar sien ek toe my geliefkoosde sterrebeeld: die Suiderkruis.  Dit was asof die sterrebeeld helderder was as normaal en amper in isolasie daar gesit het en toe skielik besef ek maar dit is 'n koersaanwyser en die volgende het daaruit gevloei:

 

                           SUIDERKRUIS

 

Twee helder sterre

wat respektiewelik Alfa en Beta Centaurus heet

bomekaar in ʼn amper vertikale lyn uitgemeet.

As “Wysers” laat hulle sig boontoe styg

na ʼn vyfsterkruis wat plat sywaarts neig.

Die ankerpaal, links na regs, in lengte meer

as die dwarsbalk, skuinsweg daaroor gedrapeer.

Skaars sigbaar, tussen dwarsbalk regterpunt

en die ankerpaal se voet,

die vyfde ster dofweg ingesluit

as handtekening van Suiderkruis oorspronklikheid.

 

Seevaarders, eeue terug, het die eerste probeer

om op reis, nut as kompas daaruit te verkry.

Trek ʼn loodlyn tussen die “Wysers” deur,

verleng die ankerpaal by sy voet verby

en daar waar dié twee lyne kruis,

siedaar, word die Suidpool presies aangewys.

Dink daaraan, ʼn houtskepie op die see

vir dae deur storm en wind heen en weer

geskud, getol, tot flenters verinneweer.

Dan, as die storm uiteindelik wyk

en ʼn sterbelaaide nag ontvou, ʼn kruis

van sterre, ʼn kompas wat rigting wys.

 

Oneindige simboliek kan tussen sterre gedy

wanneer die “Wysers” nuwe name kry:

“Vader” en “Heilige Gees” wat heen wys na:

“Jesus Christus” wat op die kruis ons sonde dra.

Hy is: “die Deur”. “die Weg”, die regte pad

na die nuwe Jerusalem, die Heilige Stad.

Die Goddelike Drie, as Een, voel gedring

om verdwaaldes terug op koers te bring.

Elke aand as die son in die Weste verdwyn,

begin die sterre geleidelik helderder te skyn

en met hulle word ʼn beeld duidelik gewys,

spesiaal vir my gemaak: die Suiderkruis!

 

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page