Ons jongste dogter ly al van kleintyd af aan erge asma. Sy het verskeie kere in die hospitaal beland as gevolg van hierdie siekte. Op een van hierdie geleenthede het die siekte verder as gewoonlik ge-eskaleer en het sy water op een van haar longe gekry. Dis ongelukkig 'n mediese toestand wat slegs sjirurgies herstel kan word en moet uitgevoer word om verdere langdurige skade te voorkom. Toevallig was my vrou ook op daardie tydstip in 'n ander hospitaal gewees, so ek moes die situasie hanteer. Toe my kind, wat toe so sewe, agt jaar oud was, hoor dat sy opereer moes word, het sy gehuil en my gevra: Pa, kan ons maar huistoe gaan nie:
SIEKETROOSTER
Simpatiek gekommunikeer,
die prognose,
van die chirurg.
Pynlik skeur dit deur
ons harte en verstand:
"ek moet opereer"
Agter die lang bruin wimpers,
oë skielik verskrik.
Die trane vlek streperig blink
die poeiersag vel van haar wang
en die lyfie ruk, die mondjie bewe:
"Pappa, ek is bang!"
Haar woorde ruk deur my
en magteloos dink ek:
"Here, as ek maar net nou
in haar plek kon ly.
My arme kind, jou pappa
is net so bang soos jy."
Tot wie anders dan God sal ons,
ons wend vir hulp en troos?
Ons Herder hoor ons roep en
die Heilige Gees trek ons nader
sodat ek en my kind kan hande vat
en saam omhoog kan roep: "Abba Vader!"