Ons aardse lewensreis is deel van ons ewigheidsreis. As dinge teen ons raak ons haastig, letterlik tot die mate dat ons soms wens ons is dood. Sonder die swaarkry en die verlossing daarvan sou ons nooit ontdek het wat die Here regtig vir ons beteken en hoeveel Hy vir ons omgee nie. Ons ervaar dit dalk nie altyd so nie, veral as ons midde in probleme staan maar die swaarkry is deel van die avontuur.
OP REIS
'n Gratis vakansiegeleentheid in 'n manjifieke omgewing geleë,
is gratis deur 'n simpatieke weldoener aan my gegee.
So baie wonderlike dinge is oor hierdie oord aan my vertel,
my hele gedagte en fokus was net daarop ingestel.
Ek is tans op reis na hierdie wonderlike vakansieplek
maar ek het skielik met groot ontnugtering ontdek
dat met meer as helfte van die reis reeds afgelê,
het ek met my haastigheid myself geweldig baie vreugde ontsê.
Ek het nog altyd hierdie gejaagtheid in my
om so vinnig moontlik by die eindpunt te kom, kry die reis verby.
Ek het nou geleer dat ek kosbaarhede verlore laat raak
as ek nie onthou dat die reis deel van die vakansie uitmaak.
Ek sou wel dikwels klipperige en stowwerige paaie moes ry
maar die natuurskoon wat ek sou sien, sou vir altyd by my bly.
Met spyt moet ek teenoor myself erken,
ek het die wonderlikste ervaringe versmaai
want ek het nooit tyd gemaak om stil te hou en selfs af te draai.
God het genadiglik deur Jesus my 'n erfdeel in die Hemel gegee.
Dié heerlikheid is my bestemming
aan die einde van hierdie lewe se weë.
Tog hoef ek nie haastig te wees om gou -gou daar uit te kom
want ten spyte van swaarkry en sukkel
ervaar ek reeds vrede en rus in Hom.