Met die kruisiging het daar baie insidente onafhanklik van mekaar gebeur en tog is hulle almal met mekaar verbind. Vir die Romeinse soldate was dit waarskynlik net nog 'n dag by die kantoor. Kruisiging van vyande van die Romeinse staat was waarskynlik 'n alledaagse gebeurtenis en op daardie dag was daar waarskynlik uit hulle oogpunt niks besonders nie. Ons moet onthou ons kyk terug op die gebeure in 'n besondere geestelike perspektief maar op daardie dag was dit waarskynlik vir die meeste mense by die kruisgebeure betrokke 'n dood normale dag. Vandag besef ons daar het buitengewone dinge plaasgevind maar nie noodwendig so ooglopend vir die betrokkenes op daardie dag nie. Die Jode wat 'n mens sou verwag meer betrokke by die godsdienstige aspek sou wees het selfs daarna die wonderlike gebeure ontken. 'n Heiden, die Romeinse offisier het besef dat dit buitengewoon was en dit sou baie insiggewend kon wees as 'n mens 'n opvolggesprek met hom sou kon voer. My weergawe van so 'n geleentheid:
ONDERHOUD MET 'N ROMEINSE OFFISIER
Vrydagoggend vroeg het Jesus homself in 'n Romeinse hof bevind.
"Hy het Homself as die Seun van God verklaar"
het die Joodse Raad die klag gelê vir Sy verhoor.
"Centurion, as hooggeplaasde offisier, was jy daar
en het jy ook die uitsonderlike beskuldiging gehoor?
Later die dag is Hy vir marteling oorgelewer aan die Romeinse Wag
en die soldate van die garnisoen het Hom spottend
met 'n doringkroon as Koning van die Jode gekroon.
"Centurion, as Hoofman oor Honderd, het jy ook
meegedoen en geen genade aan hierdie man betoon?
Om sy skuldige gewete te verbloem, het Pilatus
'n teregwysing aan die Joodse leiers laat doen.
Bo-aan Sy kruis het letters op 'n bord:
"Hy is die Koning van die Jode " uitdagend uitgespel.
"Centurion Iemand moes vooraf die opskrif voltooi,
as geletterde persoon, het jy dit dalk opgestel? "
Verbygangers en omstanders by die kruis het spottend na Jesus gewys
en snedig ge-eis: "Jy wat jouself as Seun van God verklaar,
andere kan Jy red, waarom red jy jouself nie vandag? "
"Centurion, siniese soldaat, het jy ook gedink
Sy verklaring was onwaar en het jy ook saamgelag?"
Laatmiddag het Jesus sy laaste asem uitgeblaas
en die aarde het geskud en die natuur het geraas.
Beangs het jy dit uitgeskree:
"Hy was waarlik die Seun van God gewees!"
"Centurion, verwarde mens, was hierdie belydenis
'n openbaring van jou innerlike vrees?"
Drie dae later het die vroue en dissipels 'n leë graf genader.
Die stryd was gestry en Koning Jesus het Sy volk vir ewig om Hom vergader.
“Centurion, kon jy ook toe soos ek vandag bely:
Jesus was, Jesus is, Jesus sal vir altyd wees
as Seun aan die Almagtige Vader se sy!”.