Ek dink baie oor God. 'n Mens probeer onwillekeurig gestalte gee aan God en meestal word Hy in menslike idioom voorgestel. Fisies kan 'n mens God nie in die grote heelal voorstel nie want dit is so oneindig groot. Omdat 'n mens met God kommunikeer, is daar altyd die behoefte om 'n beeld voor oë te hou maar terselfdertyd wil 'n mens nie afbreek doen aan die wese van God nie. Ek het dit intussen vir myself uitgemaak dat God alles is wat "niks" is tussen alle vorme van materie, van die grootste ster tot die mikrokleinste partikel in 'n atoom. Dit maak dit makliker vir my om dan God se grootheid en alomteenwoordigheid te verstaan:
SKEPPERGOD
God, die skepper
het ruimte en planete daargestel
en so is vir die mens
dimensie en afstand vasgestel.
Voor die skepping
het geen hoogte of diepte bestaan -
God's grootheid strek verder
as wat verstand verstaan.
Vir die mens is alle bestaan
gekoppel aan tyd
en "ewigheid"
is ons enigste begrip van tydloosheid.
Eers met die skepping
het dag en nag ontstaan
maar God was, is
en sal in ewigheid bestaan.
God is oneindig groot,
tydloos en volmaak.
Hy is verhewe bo
beperkinge wat mense raak.
Hy is volkome
in geregtigheid, liefde en heiligheid -
aan Hom kom toe
alle lof, eer en heerlikheid.