Maart 2020: Die Covid-19 virus keer die hele wêreld om, die slegte nuus oorheers die goeie nuus van Paasfees. Hopelik sal die klem op doodgaan mense aanspoor om oor die lewe, nie net dit van vandag nie maar die Ewige Lewe te besin.
NUUS: GOED OF SLEG
Eensklaps die absolute middelpunt
en orals oor die ganse wêreld gevind
die speldekussingkie oornag uitgekring
elke land van hoek tot kant binnegedring
nou aan iedereen in enige taal gevra
elkeen sal kennis oor Coranavirus dra
wêreldwyd word angstig gekommunikeer
ʼn ongenaakbare vyand het ge-arriveer.
Net ʼn paar maande terug in Sjina ontdek
nou ʼn invloed wat oor die hele aarde strek
die nuwe virus maar net mikroskopies klein
besig om die sosiale orde weg te laat kwyn
versprei onsigbaar om elke hoek en draai
oud en jonk deur die doodsengel afgemaai
ekonomieë gaan sleg voor die aanslag swig
vernietiging staar die mensdom in die gesig.
Coronavirus die onderwerp van vroeg tot laat
slegte nuus waaroor almal onophoudelik praat
miskien is die besef besig om snel deur te dring
dat die virus die dood na jou persoon kan bring
sou die virus misluk om jou nou dood te maak
gaan ʼn baie donker toekoms ook joú innig raak
wat is die indruk wat hierdie beproewing laat
skep hierdie krisis paniek en laat jou desperaat.
Ironies dat as slegte nuus mense konfronteer
niks die vinnige verspreiding daarvan kan keer
daar word in diepte daaroor gepraat en geskryf
deesdae internasionaal op sosiale media bedryf
eeue terug het daar ook iets besonders gebeur
niks of niemand kon daardie goeie nuus keer
vergeleke met die virus het dit stadig versprei
ongeag daarvan dat ʼn mens ewige lewe kan kry.
Binnekort word die Paasgebeure weer herdenk
die Vader het Sy Seun as soenoffer geskenk
op Golgota is die sondeskuld ten volle betaal
sodat elkeen wat glo die ewige lewe kan behaal
ook die dood het sy angel drie dae later verloor
Jesus het opgestaan, is by die leë graf gehoor
miskien sal die skriknuus wat die virus bring
die goeie nuus nou vinniger en verder laat kring.