Junie 2017. Knysna en omliggende dele ervaar een van die ergste bosbrande ooit. Menigte huise om en in die dorp word total verwoes. Mense is verslae, baie het alles wat hulle besit, verloor. Almal het nie versekering of voldoende versekering nie en die toekoms lyk maar bleek. Sommiges het selfs besluit om pad te gee. Wanhoop is aan die orde van die dag. Een aand, nie te lank na die gebeure kom ons Omgeegroep bymekaar en ons bespreek die trauma van die slagoffers van die brand. Ons verstaan hulle moedeloosheid en voel onmagtig. Ons hou Bybelstudie en bespreek Ef 6: 10 - 20, die Wapenrusting van God en in die skrifgedeelte word verwys na God se krag en mag. Ons bespreking eindig in die wete dat by God is niks onmoontlik nie, Sy arm (vermoens) is nie te kort nie. Dit het my weer laat dink aan 'n totaal onmoontlike situasie wat God moontlik gemaak het:
ALMAGTIG
Lasurus, ernstig siek gewees.
Hoop! Jesus sal kan genees.
Lasurus se susters kontak Hom
maar Jesus talm om dadelik te kom.
Lasurus blaas sy laaste asem uit.
Wanhoop! Dood is finaal, realiteit.
Lasurus daglank in die graf, hy ruik.
Verwyt. U sou die siekte kon fnuik.
Jesus roep en ʼn lewendige Lasurus kom!
ALMAGTIG! Selfs die dood vlug voor Hom.