'n Familielid was terminaal siek. Hoe praat jy so 'n persoon moed in. Dis die vraag waaroor ek gebid het en die antwoord wat in my gemoed opgekom het, is in die volgende vers saamgevat. Ek was oormatig bewus dat enige persoon in daardie situasie meermale alleen is, ongeag hoeveel en hoe intens mense om jou is. Jou gedagtes is jou eie en dit is waar jou worstelinge plaasvind.
ALLEEN
​
Op die hoogtepunt van Sy lewenspad
het Hy skares mense aan Sy voete gehad,
hulle het in verwondering opgekyk na Hom
want wonders het Hy uit Sy hande gekom.
Hy is jubelend Jerusalem ingelei,
net Hy’t geweet, Sy alleenpad was na-by.
In Getsémane het Hy bloed gesweet,
dat die lydingsbeker wag, het hy geweet,
Hy’t gehoop Sy dissipels sou Sy angs wou deel
maar hulle eie probleme was te veel,
Vergeefs het Hy gepleit op steun,
verlate van vriende, Hy was alleen.
Van priester tot priester impromptu verhoor,
blatante leuens en skeldtaal aangehoor,
Uiteindelik voor ʼn Romeinse regter gesleep,
gespoeg, geslaan, gesweep.
Strompelend onder ʼn kruislas gekreun,
deur die mensdom verwerp, Hy was alleen.
Vlees teen hout met spykers vasgeslaan
het Sy kruis tussen misdadigers gestaan;
Selfs hulle spot, die toeskouers hoon. O, die pyn
en vir Sy erge dors, net asyn.
Toe donkerte, weerlig blits, donder dreun,
van God verlaat, Hy was alleen.
Ter helle neergedaal, die graf het oopgegaan
en só het Hy sonde en dood vir ons verslaan.
Hierdie lewe is vol leed en is swaar
en ons gaan die onmag van mense steeds ervaar.
Maar ons troos, die geloof waarop ons steun:
met Immanuel, nooit, nooit weer alleen.