Afval is 'n delicatesse. Die wat weet is van opinie dat die absolute hoogtepunt die eet van Skaapkop is. Ek het die voorreg gehad om hierdie ervaring met 'n paar goeie vriende deur te maak. Ek glo die onderstaande is 'n getroue weergawe van daardie besondere ervaring was.
GENOT
Die derde Julievan die jaar Twee Duisend en Vier
is ʼn datum ingestem op eendag as ʼn herdenking te vier.
Ook die naam Guldenbodem sal lank in die annale bestaan
want op dese datum en plek het ʼn Skaapkopgilde ontstaan.
Dié besondere wintersoggend was koud en nat
en daar was ʼn handjievol, uitgesoekte manne wat
bymekaar was om saam ontbyt te eet
maar hoofsaaklik kragte teen ʼn skaapkop te meet.
In die kombuis, met die atmosfeer warm en knus,
het op die stoof twee potte pap stomend gesis.
Die tafel was vir vyf persone voorberei
en in die oond was sommer drie skaapkoppe in ʼn ry.
Koester die volgende prentjie in jou geestesoog:
geurige mieliepap, nie te styf en nie te droog
bruingebakte skaapkop, asof met ʼn glimlag om die mond,
en ʼn afvalsousie om die gereg sappig mee af te rond.
Aanvanklik het ʼn stilte oor die fynproewers gedaal
terwyl iemand die harsings diep uit die skedel haal
maar toe tussen die heerlik gesmul, is liries geraak
oor die sappige vleis genestel om die bo- en onderkaak.
Weldra het die souspot se vlak laag gedaal
en al wat jy in die pappotte kon sien, was bodems van staal.
Die skaapkoppe was tot enkele stukkies been gereduseer
en al wat oor was, haas onopmerkbaar, ʼn effense koffiegeur.
Nie net is daar baie aandag aan die kos spandeer
maar was daar ook aan die gesels en kuier geen keer
en die son se gang was al reeds hoog in die lug
toe is Guldenbodem se Skaapkopgilde eers amptelik gestig.
Sou ek myself enigsins ooit sit en verknies
as ek tussen hierdie geleentheid of baie geld moet kies.
Geensins, as my gedagtes eendag op ver paadjies teruggalop,
is dit die herenneringe wat my hart warm sal laat klop.