Oudword is nie vir sissies nie maar dit eis sy tol:
DIE GEVALLENES
Een groep wysgere het baie te sê
oor die positiwiteit wat in veelvoude lê.
Een bekende gesegde waarop hulle dikwels steun,
is dat twee koppe is beter as een.
ʼn Ander groep wyses het weer gereken
dat meer as een persoon betrokke, moeilikheid beteken,
soos byvooreeld meer as een kok in die kombuis
lei tot ʼn maaltyd van waterige groente en gebrande vleis.
Terwyl ʼn mens jou so aan allerlei wyshede verstom,
neig die gedagtes onwillekeurig na ouderdom
want die twee gaan gewoonlik hand aan hand,
immers die gesegde lui: soveel jare soveel verstand.
Ek wonder of daar dalk ʼn verband bestaan
tussen twee mense se vergange jare, enkel of tesaam
want partymaal kan die somtotaal ʼn saak versterk
maar dan waarskynlik ook partymaal negatief inwerk.
Ek sou dink dat die som van jare by ʼn man en sy vrou
net positiewe dinge vir die gemeenskap inhou
maar by onverwante individue en veral van dieselfde geslag
is ek meer skepties en sal ek eerder moeilikheid verwag.
Met al hierdie feite kan ek net tot een slotsom kom
dat as twee dames, beide van dertig jaar ouderdom
besluit om net een verjaarpartytjie met hulle bure te vier,
het hulle die magiese vyftig oorskrei en is hulle ver oor die muur.