Ons wonder baie keer hoekom die lewe verloop soos wat hy verloop. Voorspoed is natuurlik altyd welkom en ons bevraagteken dit nie te veel nie, dis die teëspoed gedeeltes waaroor ons nie te veel opgewonde raak nie. Teëspoed maak selde vir ons sin, voorspoed bewerkstellig ons self. Sal ons ooit werklik verstaan? Ek dink nie nou nie maar wel eendag.
LEGKAART VAN DIE LEWE
Soos legkaartstukke deurmekaar op 'n hoop
as ek die sin van my lewe probeer ontknoop.
Voorspoed hier, teëspoed daar -
Ek wonder, hoe pas
die verskillende stukkies inmekaar?
Stukkie vir stukkie word die legkaart voltooi
want die Meesterbouer het reeds
my lewensprentjie ontplooi .
'n Raaisel in die spieël vir my-
maar eendag by Hom
sal die geheelbeeld volle betekenis kry.